AfriForum se handelsmerkitems

AfriForum se handelsmerk simboliseer samewerking (twee figure wat kwessies hand aan hand pak en AfriForum wat die hand na die gemeenskap uitreik – dit kan ook verwys na die beginsel van twee koppe wat beter is as een). Dit simboliseer ook dat die gemeenskap deur AfriForum se landwye takstrukture hande vat om die kwessies van die dag die hoof te bied.

Die visuele elemente wat die handelsmerk ondersteun, bied daarom ook ’n balans tussen om gister te vier, vandag te veg en sodoende ’n beter môre te bou sodat die burgerlike samelewing ’n plek kan wees waar Afrikaners en ander minderhede vry, veilig en voorspoedig kan voortleef.

Hierdie platform fokus op AfriForum se handelsmerkbeginsels. Die primêre verantwoordelikheid vir die toepassing van hierdie dokument berus by die bemarkingsafdeling in samewerking met die  kommunikasiehoof en die bestuurshoof van Strategie. Getrou aan ons waarde van selfbestuur neem elkeen van ons verantwoordelikheid om met ons handelsmerke om te gaan soos wat hierdie dokument verduidelik.